Die Boekwurm

Bekendstellingsgeleentheid vir Skrywers

Almal se Boeke - Vir Almal

Die Boekwurm

Waar ons veral plaaslike skrywers aanmoedig om hulle werk bekend te stel sodat lesers van oraloor dit kan geniet.

“’n Boek is ‘n vriend; en goeie boeke is uitstekende vriende. ‘n Boek sal met jou praat as jy geselskap soek; en stilbly as jy moeg is vir praat – en daar is min ander vriende wat dit vir jou sal doen” – Lyman Abbott

Die Gedagte agter Die Boekwurm

Die Boekwurm-platform is geskep om aanlyn blootstelling te gee aan skryfwerk van veral plaaslike skrywers. Skrywers van alle vlakke van die samelewing wat graag hulle skryfwerk wil bemark.

Aangesien ons in Stilbaai gestasioneerd is, verwys “plaaslik” na die Hessequa-gebied in die Wes-Kaapse Tuinroete. Ons fokus is dus op skrywers wat woonagtig is in, en om, dorpe soos Stilbaai self, Jongensfontein en Melkhoutfontein. Ook Riversdal, Heidelberg, Witsand, Albertinia, Gouritsmond, Slangrivier en Port Beaufort.

 

Die Boekwurm-Boekwinkel

Ons boekwinkel werk effens anders as die tipiese aanlyn winkel.

Wanneer jy ‘n bestelling plaas of ‘n direkte aanlynbetaling wil doen, word jou transaksieversoek direk herlei na die outeur wat dit self verder hanteer.

Indien ‘n deelnemende skrywer reeds ‘n eie platform het, verwys hierdie skakels jou direk na die skrywer se platform en die outeur hanteer die transaksie verder self.

 

          Die Boekwurm Facebook-groep    Die Boekwurm - Facebook

Ons het ook ‘n Bakkiesboek-groep waar lede van Die Boekwurm onderling kan gesels oor die uitdagings van skryf, dan herskryf en nogeens herskryf. Van sit op moedverloor se vlakte saam met Elia van ouds onder die besembos, om later maar weer uit te kruip en weereens te herskryf tot dit reg klink. Of nie.

Of sommer net gesels oor lees, die nuutste boeke, nuus deel oor boekbesprekings, boekbekendstellings en ander boek-, lees- en skryfverwante dinge.

Die Boekwurm Facebook-groep is vir mense wat nog hou van die reuk van ‘n nuwe boek, maar ook vir mense wat die elektroniese boek verkies. Jy hoef nie ingeskakel te wees by Die Boekwurm om op ons Bakkiesboek-groep saam te praat nie. Enige persoon met ‘n liefde vir lees en wat belangstel in boeke en skryf, is welkom om saam te gesels.

 

Die Boekwurm-Uitnodiging

Ons nooi elke skrywer, of jy nog ‘n amateur- of aspirantskrywer, of reeds ‘n gesoute of professionele skrywer is, om jou boeke op Die Boekwurm te plaas. Daar is nie iets soos te veel blootstelling nie.

Of jou boek selfuitgegee of elders gepubliseer is, maak nie saak nie. So ook maak dit nie saak of dit in gedrukte- of elektroniese formaat, of beide is nie.

Laat ons jou pennevrug hier beskikbaar stel: daardie roman, kinderverhaal, digbundel, drama, motiveringsgesprek of reisverhaal. Dalk jou bundel kontreistories, vistermanstories, boererate of memoires. Die interessante ryk geskiedenis van jou dorp en omgewing of daardie koffietafelboek met jou eie pragfoto’s. Of wat van daardie selfsaamgestelde resepteboek met sommige van oumagrootjie se geheime resepte? Mense daar buite stel belang!

Alhoewel ons fokus op plaaslike skrywers, is ander skrywers ook welkom om by Die Boekwurm in te skakel. Ons gee graag dieselfde blootstelling aan almal.

         

         

Gesonde raad so uit die pen van C Louis Leipoldt:
“Elke beoefenaar van ‘n kuns is en bly ‘n leerling; hy kan altyd voordeel trek uit wat ander oor sy werk sê, hoe afbrekend of onkundig dit ook mag wees.” – C Louis Leipoldt

Snuffel rond in Ons Boekwinkel

“Van stories aandra weet ek baie. Ek bedoel: is dit nie maar wat skrywers doen nie? Stories aandra.” – Ronelda Kamfer

Vlug van Gister – Jan Bonthuys

Waarheen vlug jy as huis nie meer huis is nie?
Wanneer word dit tyd om aan jouself te dink en te vlug, wanneer is geweld genoeg?
Emma stap met ’n stukkende liggaam en gees weg van ’n huwelik wat nooit moes gebeur het nie.

LEES MEER »

Kortpad na jou Boek

Indien jy ‘n spesifieke boek in gedagte het en dit nie hierbo verskyn nie, kies die kategorie of skrywer uit die lys hier onder.

Klik daarop en binne nog een klik is jy in posisie om die kooptransaksie af te handel.

Word Deel van Die Boekwurm

Elke skrywer se werk lê na aan sy hart, want daarin opgesluit, is dae en nagte van tandeknersend soek na daardie ontwykende woord of frase, oor en oor. Jou werk verdien om gelees te word, so, sluit aan en kry aanlyn blootstelling en bemarking.

Scroll to Top